|
To read this story in English, click here Dawie Couzyn Operasanger en inwoner in Observatory Laan
 Die man met die groot stem... Dawie Couzyn is ‘n gróót man. Met ‘n gróót naam en ‘n nóg groter stem. ‘n Stem wat hy laat geld het tot in die politiek. Want die opera moes wag. “Ek kon nie. Vir my pa was sing net ‘n stokperdjie. ‘n Man moes ‘n properse jop hê.” Toe word Dawie maar joernalis. Twaalf jaar lank. “En begin toe sommer ‘n linkse koerantjie, Die Nuwe Stem. Maar toe vou die ding net so voor die ‘48-verkiesing – al het ek literêre name soos Uys Krige and Herman Charles Bosman agter my gehad.” Dis juis Bosman se destydse minnares wat dié sopraantjie as kind uit Pietersburg se stofstrate gehou het met sanglesse en kunswedstryde. “Jong, ek was altyd maar lief vir sing.” Só lief dat net die Beatles hom in die vroeë sestigs op die hit parade kon klop. Dawie se treffer-liedjie? Op my Ou Ramkiekie… En wie onthou nog sy Oom Bossie van die Bosveld, of Ek’s ‘n dapper muis? So die dapper muis is eintlik ‘n politieke dier? Hy giggel. Dis die ander sy van Dawie Couzyn. Want hy is eintlik opera-ster. Nee, legende. Figaro. Don Giovanni. Rigoletto. La Bohème se Benoit. Noem maar op en weet: Dawie Couzyn se booming bariton het al dié opera-rolle gesing – en op die wêreld se grootste verhoë. Honderde kere. Want 57 jaar al sing die man. En op 80 dínk hy nie eens aan aftree nie. Hy’s pas klaar met sy gunsteling-hoofrol as Benoit in Roodepoort se Pro Musica-teater waar hy jaar na jaar nog optree – en waar hy in September ‘n spesiale toekenning van die ATKV ontvang het vir die bevordering van die Afrikaanse kunslied, operette en operamusiek. “En ek het Idols-sterretjies om groot te maak,” lag hy. Kgomotso, verlede jaar se amper-wennertjie van dié gewilde TV-reeks, is deur Dawie se hande, want hy gee elke dag tot vier uur lank sanglesse by sy huis in Observatory Laan, waar hy twaalf jaar al nesgeskop het. Een van sy studentjies knip juis ons halfuurtjie kort. Ek groet by die ateljee se deur – en bewonder die wulpse figure wat op die panele geskilder is. “Dis ek. My werk,” vertel hy trots. Het die man se talente dan g’n einde nie… - Om uit te vind van sy sanglesse, bel Dawie by (011) 487 2041
- Vir meer oor opvoerings by die Pro Musica-teater in Roodepoort bel 011 674-1357
Sy lang singende pad… - 27 Junie 1925: Mauritz David Wilhelmus (Dawie) Couzyn word in Pretoria gebore
- 1945: Na jare se sanglesse, eindig hy in Johannesburg by Olga Ryss
- 1948: Hy sing in sy eerste opera
- 1955: Hy studeer by die Staatsakademie für Musik und Darstellende Kunst in Wene en slaag die Staatliche Reifeprüfung na twee jaar. Nog sanglesse in Salzburg en Milaan volg, met optredes vir die BBC in Londen en Radio Wien. Hy is ook solis vir die Weense Kammeroper.
- 1957: Maak sy debuut as professionele bassolis in Beethoven se Missa Solemnis. Sy professionele operadebuut, kort daarna, was as Figaro in Mozart se Huwelik van Figaro, in die Wuerttembergische Landestheater in Duitsland.
- 1959: Word die hoofsanger van die Landestheater in Salzburg
- 1960: Keer terug na Suid-Afrika en is instrumenteel in die daarstelling van Rade vir Uitvoerende Kunste. Sing ook lekker in sy taal aan die Afrikaanse vertalings van operas soos Die Towerfluit van Anton Hartman van die SAUK en Aart de Villiers, hoof van Afrikaanse drama by Wits. Hy was ook die regisseur van talle en het tot Afrikaanse operettes vir die SAUK gesing – juis waarvoor the ATKV hom vereer het.
Hy verskyn in operas soos Cosi Fan Tutte, Carmen, The Consul, en Norma. Sy kinderliedjies saam met Doris Brasch word treffers. Dit sluit in: Eensame Krokodil; Oom Olifant; en Sal jy dit glo - 1963: Is bariton-solis vir Santa Cecilia se uitvoering van Britten se War Requiem in Rome.
- 1964: Sing vir die Salzburger Mozartoper in Italië, Switserland, Luxemburg en Duitsland. Studeer verder by die Mozarteum en word ‘n kenner van Mozart se operas onder die leiding van Bernhard Paumgartner
- 1969-1971: Sing sewe hoofrolle vir die National Opera Company of America, en sing van middel 71 vir die Linz-opera in Oostenryk
- 1974: Keer finaal terug na Suid-Afrika waar hy Xander Haagen opvolg as hoof van die Operaskool van Pretoria se College for Advanced Technical Education. Hy bedank in 1977, maar sing steeds in verskeie operas in die jare daarna – deesdae veral vir Pro Musica-teater in Roodepoort.
- 1992: Doris Brasch en Dawie Couzyn se Tingeling word heruitgereik op CD
Navorsing deur Carine Hartman, 28 Oktober 2005 Bronne: Litnet; Rapport; The Citizen; www.rock.co.za; Volume I of the 1986 edition of South African Music Encyclopedia (J.P. Malan)
|